2006-05-09

BYBELGESPREK - 2

EN TERWYL EK WEG IS ....

Hierdie is die tweede van 4 sessies oor Johannes 14-17
In Johannes 15 praat Jesus verder oor Sy verhouding met Sy dissipels. Daar is ’n noue verband tussen hulle en Homself en die Vader. Dit gaan hier daaroor dat hulle in groei plaasvind in gemeenskap/verhouding met Hom, dat hulle Sy vriende is en dat die Vader vir hulle sal sorg. “Onthou” sê Jesus by die geleentheid vir hulle, “Ek is nog altyd julle Vriend. Praat maar met my, ek sal hoor en help!”


Begin met die Skriflesing: Joh 15:1-17

KONTEKS: Die beeld van die Wingerdstok handel oor die intimiteit van ons verhouding met Christus. Gesels oor julle verhouding met Christus. Hoe gaan dit met dissiplines soos gebed en Bybel lees, op watter terrein voel julle naby aan Hom en waar voel julle ver van Hom af? Luister na mekaar en moenie probeer oplossings gee nie!

GOEIE NUUS: Die gedeelte wys duidelik hoe naby ons aan Christus is, dat ons ’n spesiale verhouding met Hom het (Lees bv. Joh 15:11-:15). Watter goeie nuus hou die gedeelte vir julle in? Wattter verskil maak dit aan die manier waarop jy oor jou verhouding met Christus dink? Hoe voel jy oor die idee dat Hy jou as Sy vriend beskou?

In aan sluiting by die gesprek oor die goeie nuus, spandeer tyd om Christus te aanbid en te dank deur een of meer van die volgende: sang, die voorlees van gebede of psalms, deur na musiek te luister of dat iemand ’n dankgebed doen (Help die persoon deur ’n lys te maak van die dinge wat julle as goeie nuus beleef).

NUWE GEMEENSKAP: Ons is almal deel van Christus se vriendekring! Hy praat ook daaroor dat vriende hulle lewe vir mekaar aflê, dat hulle aan Hom gehoorsaam sal wees deur mekaar lief te hê en dat Hy alles aan hulle bekend gemaak het. Hoe verander dit die manier waarop ons as gelowiges met mekaar moet saamleef?
As julle daaraan dink dat ons eers vreemdelinge was: Hoe sal dit die manier waarop ons teenoor mense buite die geloofsgemeenskap verander?

VERANDERING: Die gedeelte praat van vrug dra, van snoei deur die woorde van Jesus. Wat moet verander in die groep om helderder uitdrukking te gee aan die feit dat ons deel is van Christus se vriendekring.

TOERUSTING: Om vrug te dra is om te verander. Dit waaroor julle in die vorige vraag gesels het Hoe help die teks ons om die veranderinge wat julle geïdentifiseer het te implementeer?

Gebruik julle gebedsgeleentheid om vriendskap te vier. Gee geleentheid vir elke groeplid om sy of haar vriende se name te noem – en ‘n gebed vir hulle te doen. Miskien kan julle by die geleentheid fokus op daardie vriende wie se vriendskap ’n verskil aan julle geloofslewe maak – en onthou: Christus is ook een van daardie vriende!