Die Kleingroep-versorgers het Maandag 6 November vir die laaste keer in 2007 bymekaar gekom.
Die eerste tema wat ter sprake gekom het, was die verband tussen Kersfees/Advent en Geloofsgemeenskap. Wat kan ons daaruit leer wat ons kan help om geloofsgemeenskap in ons Kleingroepe te verdiep? Hier is 'n paar van die gedagtes wat ter sprake gekom het.
1. Advent is nogal 'n geloofsgemeenskap wees. Dit is immers die viering van God by ons, God in gemeenskap met ons. Terselfdertyd beleef ons Kersfees as 'n tyd saam met mense naby ons en dikwels ook vreemdelinge. Dink maar bv. hoe ons op Kersoggend selfs vreemde mense seën toewens!! En dit is wat geloofsgemeenskap is. God, ek en my medemens in 'n verhouding. Kersfees is 'n metafoor, 'n beeld van hierdie soort geloofsgemeenskap.
2. Advent is natuurlik ook 'n nuwe begin. Dit is die begin van die kerkjaar. Dit is die begin van 'n hele nuwe bedeling in die geskiedenis van God en mens - 'n bedeling wat deur 'n inklusiewe geloofsgemeenskap gekenmerk word. Deel van ons gesprek het oor vermeerdering gegaan. En dit was juis hierdie punt wat die gesprek ge-"trigger" het. Hoe bereid is ons om vir ander mense dieselfde ruimte vir 'n nuwe begin (ontdekking van die genade en vergifnis) te bied. Die spanning van geloof lê verder daarin dat so 'n nuwe begin 'n veilige ruimte vra - 'n ruimte wat net deur die teenwoordigheid van God (en dus die gedrag van God se beelddraers) tot stand kom. En mense wat verwond is vertrou nie maklik nie. Dit vra tyd.
3. Daar is natuurlik rondom ons gemeensaamheid oor Kersfees 'n baie doelbewuste keuse. Ons ry ver, maak afsprake. Ook die beskerming van ons oortuiging dat Kersfees 'n Christelike fees is, vra dikwels 'n doelbewuste keuse om bv. uit die winkels weg te bly, die prys van geskenke goedkoop te hou, ens. Geloofsgemeenskap word georganiseer, dit kom nie vanself nie en verdiep ook nie vanself nie. Dit is m.i. die belangrikste rede vir Kleingroepe in 'n gemeente - 'n doelbewuste struktuur vir die verdieping van geloofsgemeenskap.
Mag Advent 2006 se seën daarin te vind wees: dat ons saam met Christus mekaar met nuwe oë raak sien en so vir mekaar hoop bied - hoop dat daar 'n meer betroubare gemeenskap bestaan.
2006-11-07
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment