2006-09-05

Leer en onderrig mekaar

In Kol 3:16 en 17 lees ons: "Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom injulle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles ind ie Naam vand ie Here Jesus en dank God die Vader deur Hom".

Aan die hand van hierdie gedeelte het die Kleingroep-versorgers gisteraand (4/9/06) met mekaar gesels oor die verband tussen versorging van mekaar in die Kleingroep en dissipelskap of geestelike groei as fokus van die groep. Dit is gedoen teen die agtergrond van meer as een selleier wat vir my (Johan) kom sien het met die vraag: Hoe hanteer ons ernstige verhoudingsprobleme van sellede in die sel?

Die volgende riglyne het uit die gesprek na vore gekom.

1. Fokus op God. Die sing van liedere tydens die selbyeenkoms help ons hiermee. Aanbidding is dus nie net 'n lekker saamsing nie, maar help ons met die hantering van die uitdagings wat die lewe bied.

2. Doen moeite. Om iemand te ondersteun vra dat ons moeite sal doen om te wys dat ons om gee, dat ons belang stel en 'n "commitment" teenoor die persoon/persone het wat ons ernstig op neem. Dit gaan dus hier oor die bou van verhoudinge wat verkieslik betyds gevestig moet word deurdat die leier soms "huisbesoek" doen, een-tot-een gesprekke met groeplede voer, die sel saam speel en pret het. Hierdie verhoudingsbou is die verantwoordelikheid van al die groeplede.

3. Haal die "issue" uit die sel byeenkoms. Dit is belangrik om te onthou dat die sel nie net 'n byeenkoms is nie, maar ook "tussen-in" kontak met mekaar moet soek (sien hierbo). Dit is ook belangrik om te onthou dat al die groeplede 'n aanspraak op ondersteuning het, en na alle waarskynlik is dit deel van die groepskontrak dat almal geleentheid tot gesels en deel sal kry. Dit is 'n goeie idee om individue wat ernstig probleme het buite die selbyeenkoms te sien en te probeer ondersteun. 'n Ander moontlikheid is om tydens die selbyeenkoms te werk met wat ek "mikro-groepe" noem. Maw laat die groep vir die tyd om te deel opbreek in nog kleiner groepe van 2 of 3 persone wat deel en vir mekaar voorbidding doen.

4. Gebruik jou ervaring. Gebruik jou eie ervarings om te deel en te begelei. Dit beteken nie om die bekende: "dit is nog niks, weet jy wat het met my gebeur ..."-stelling te maak nie. Onthou hoe jy gevoel het en wat jou behoefte in soortgelyke situasies was. Deel op 'n nederige, nie paternalistiese, manier wat jy van die Here ontdek het in tye van uitdaging en probleme. In hierdie verband is die fokus op dissipelskap en groei baie belangrik.

5. Gebruik die gawes in die groep. Die groepleier het 'n ononderhandelbare verantwoordelikheid om al die groeplede te begelei, maar daar is na alle waarskynlik ander groeplede wat die gawe van bemoediging of ondersteuning het. Gebruik hulle - maar altyd met die toestemming van diegene wat swaarkry.

6. Pasop vir 'n "high-maintenance" groeplid. Dalk is die beste wat jy vir iemand wat uitdagende tye beleef, om te voorkom dat hy/sy 'n "high maintenance"-groeplid word. Sulke groeplede tap die energie van groep, neem die groep weg van sy oorspronklike doel, kaap byeenkomste (bewustelik of onbewustelik) en veroorsaak vervreemding en ongelukkigheid in die groep. Bg riglyne sal baie help om dit te voorkom.

Henry Blackaby in sy boek Beleef God (p.86) gee die volgende riglyne

Stap 1: is om biddend te luiste3 na wat die Heilige Gees deur die Woord oor die aangeleentheid vir ons leer.
Stap 2: is om biddend die waarheid te onderskei.
Stap 3: is om jou gedrag te verander in ooreenstemming met die waarheid.
Stap 4: is om toenemend in gehoorsaamheid op te tree.

Ons vertrou bg. help 'n bietjie om die kwaliteit van versorging van mekaar te verhoog. Laat weet gerus watter ervaringe julle het en watter lesse julle in julle groep geleer het oor versorging van mekaar. Kom deel julle getuienis deur op "comments" te klik. Dit kos niks om te registreer nie, maar dra baie by tot die groei van mede-gelowiges.

Johan

No comments: