2006-08-18

DIENGESPREK -2 Cosmo CIty


Ek het al voorheen gesê dat Cosmo City baie geleenthede gaan bied vir selgroepe om projekte te loods. Ons is vol moed dat Jos Nyathi middel na einde Oktober sal kan intrek en ons vroeg in November met byeenkomste sal kan begin.

Hier is die eerste voorstelle:

Om 'n meesterplan op te stel vir die kerkterrein - sodat ons die tent op die regte plek opslaan - benodig ons 'n argitek en 'n siviele ingenieur.

As ons begin November met byeenkomste wil begin benodig ons:

- 'n Borgskap vir die tent
- 'n klankstelsel
- stoele
- kateder of tafel
- 'n Staal "container" waarin ons goed kan toesluit

Vir meer inligting bel vir myself of Jos Nyathi by 796-6800 of vir Douwe van Wyk by [072]944-3644. Ander persone wat met die projek help is Robert Schmdit, Maria Engelbrecht, Johan Heunis, Estelle Bester, Bennet Funda en ds. Nico Mostert van Greymont.

Kom ons maak hierdie opwindende geleentheid 'n Kleingroep-projek

KOFFIETAFELGESPREK - Hoe ondersteun groepe mekaar?

Tydens die vorige vergadering van die Kleingroep-versorgers het ons gesels oor wat die prioriteite vir 2007 moet wees.

HOE LYK DIE STRUKTUUR OP DIE OOMBLIK?

Op die oomblik bestaan die struktuur basies uit Marissa wat die inskakeling hanteer en dan die 10 versorgers wat die Kleingroepleiers ondersteun. Ek het iemand geïdentifiseer vir wie ek wil vra om as kontak tussen die Kleingroep-netwerk en selgroepe op te tree.

WAT 'n STRUKTUUR MOET DOEN?

Een van die belangrike prioriteite waaroor gesels is, is die versterking van die strukture rondom Kleingroepe in die gemeente. Ekself (Johan) is van mening dat strukture slegs ondersteunend moet wees en aandag moet gee aan veral 3 sake te wete opleiding, materiaal en inskakeling. Uit die ontwikkeling van die afgelope jaar is daar ook 'n behoefte aan die ko-ordinering van diensgeleenthede.

Wat is julle verwagting van die strukture in die gemeente en die Kleingroep-netwerk?

KLEINGROEPE en GEMEENTE

Die Gemeenteraad is vas oortuig dat kleingroepe die sleutel tot beter kommunikasie in die gemeente is, en die kern van die gemeente vorm. Daarom stel hulle hoë verwagtinge van die kleingroepe se inset in die gemeentelewe. Ek het nog altyd probeer om die kleingroepe teen sulke verwagtinge te beskerm, omdat ek uit eie ervaring weet hoe verwagtinge rondom rentmeesterskap, organiseer van geleenthede, dienswerk ens. kleingroepe se agenda's oorneem. Om dit te kommunikeer skep nie net druk op kleingroepe nie, maar ook verwagtinge by die boodskapper en as groepe nie reaeer nie kom die beskuldiging van "click"-vorming en apatie baie gou.

By die eerste gesprek van die jaar het groepe gevra dat ek meer inligting oor diensgeleenthede deurgee en dit aan hulle oor te laat om te besluit om betrokke te raak. Hopelik het dit verbeter, maar die gebrek aan reaksie het inderdaad bg. beskuldigings ontlok.

Sien ook die "Diengesprek"-artikels oor geleenthede, soos die terugvoer van die Kleingroep-gespreksaand twee weke gelede en oor 'n geleentheid in Cosmo City.

WAT IS JOU MENING HIEROOR?

Laat weet asb. hoe jy voel oor die rol van die strukture in die Kleingroep-netwerk en oor die verhouding tussen Kleingroepe en gemeente. Kom ons maak hiervan 'n sinvolle "blog-gesprek",

2006-08-01

BYBELGESPREK 6 - Psalms vir aanbidding

Nog 'n boekie wat ek by Gospel Direct se uitverkoping raakgeloop het is 'n boekie oor die wonder van gebed 2. Dit bevat riglyne om Psalms te gebruik as hulp tot gebed en aanbidding by o.a. byeenkomste van kleingroepe. Ongelukkig is die boekie gebasseer op die Leesrooster se Jaar A, terwyl ons met Jaar B besig is.

Nogtans bevat dit handige riglyne.

DIENGESPREK

Groepe vra dikwels waar kan ons betrokke raak?

BRING-EN-GEE het groot behoefte aan medewerkers. Bel vir Jolandi by 083 278 9234 om meer uit te vind.

SOPAKSIE in Riverlea het behoefte aan sopkokers en mense wat bereid is om sop te gaan aflewer. Dit bly ook 'n ondervinding om die aksie te besoek en 'n bietjie blootstelling te kry aan wat armoede regtig aan mense doen. VIr meer inligting bel vir Lyn by 796 6830.

Ons EREDIENS-SPANNE het ook altyd plek vir nog mense. Bel vir Theresa om meer uit te vind waar julle betrokke kan raak by die aksie. Hulle neem dankoffer op en verwelkom mense by die deure. Theresa se nommer is 796 6800.

Praat met Waldemar (796 6800) oor geleenthede by die JEUGBEDIENING.

Ander geleenthede wat aan die kom is, is Alpha en Ontdek jou plek. Dit is vir groepe wat behoefte aan groei het.

Dan kom daar binnekort 'n klomp geleenthede om projekte te doen met die oog op die vestiging van ons werk in Cosmo City (langs Hans Strydom net anderkant Kya Sands). Ons gaan veral goed soek om 'n byeenkoms ruimte te skep soos stoele, klankstelsel ens. Ons is tans besig met die beplanning van die werk en sal julle op hoogte hou. Intussen kan julle voorbidding doen vir die werk. Bel vir Maria Engelbrecht om julle name op die lys te kry. Haar nommer is 082 340 6740. Jos Nyathi of ekself kan ook meer inligting kom gee.

Groete
Johan

BYBELGESPREK 5 - Beskikbare materiaal vir byeenkomste

Groepe vra dikwels waar kan hulle materiaal kry vir byeenkomste.

Hier is 'n paar voorbeelde.

By die kantoor is materiaal beskikbaar oo r:

DIE HUISGESIN VAN GOD - die boekie met 6 byeenkomste is ideaal vir nuwe groepe of groepe wat weer 'n slag wil nadink oor wat dit beteken om 'n groep te wees. Dit is opgestel deur 'n groepe predikante in George en uitgegee deur Lewensvreugde. 'n Afskrif kan in harde kopie by die kantoor bestel word. Koste: Donasie aan die gemeente vir afrol werk.

RENTMEESTERSKAP - in die lig van die gesprek oor die gemeente se rentmeesterskap kan die boekie groepe help om oor hierdie belangrike maar verwaarloosde aspek van dissipelskap te praat. Johan Pieters het 'n kursus van die bekende John Maxwell (wat heelwat boeke oor leierskap geskryf het) aangepas vir die doeleindes van groepsbesprekings. Koste: Donasie vir afrolwerk. Die boekie kan ook op CD of per e-pos versprei word.

MENSE WAT LEWE - die reeks van 6 byeenkomste handel oor die impak wat die opstanding van Christus op ons lewe het. Dit is deur Johan Pieters ontwikkel en is gebasseer op 'n kursus van John en Adrienne Carr met die titel: Volk van die Pase. Elke week se byeenkoms bestaan uit leeswerk en 'n groepsbyeenkoms wat geestelike groei wil bevorder. Die boekie is spesifiek geskryf om groepe te help met die verstaan van die gemeente se roeping om gemeenskapskerk te wees. Koste: Donasie vir afrolwerk. Ons kan dit ook per e-pos of CD beskikbaar stel en 'n Leiersgids word tans ontwikkel.

AS JESUS GROET - die reeks oor Joh 14-17 kan beskikbaar gestel word. Johan het dit ontwikkel in 'n poging om 'n benadering te kry om meer materiaal vir groepe te kan skep wat aanpas by temas ens. wat in die gemeente gepreek word. Hierdie is 'n toets en terugvoer kan help om sinvolle materiaal te ontwikkel. Koste: Donasie vir afrolwerk.

Ander materiaal wat onder ons aandag gekom het en blykbaar goed werk is die volgende:

BEGINNING LIFE TOGETHER - Heinrich Eksteen het die boekie wat deur 'n DVD ondersteun word onder my aandag gebring. Dit word uitgegee deur Zondervan en is ontwikkel deur o.a. Bruce Wilkenson en onderskryf deur Rick Warren. Dit moet ongelukkig van oorsee bestel word by www.zondervan.com

SEWE - jou kompas tussen lig en duister - die boekie deur Leon Fouché het ek nou die dag by Gospel Direct se uitverkoping raakgeloop. Dit handel oor die 7 christelike deugde (nederigheid, vriendelikheid, geduld, betrokkenheid, mededeelsaamheid, matigheid en kuisheid) en die 7 klassieke "doodsondes (hoogmoed, afguns, woede, afsydigheid, gierigheid, vraatsug en wellus). Dit bevat 7 gesprekstemas. EK is besig om die boekie deur te werk, maar dit lyk vir 'n begin of dit kan help.

Lekker gesels
Johan