2006-05-25

NETGESPREK 3 - Hemelvaart en geloofsgemeenskap


Is Christus se hemelvaart die opbreek van geloofsgemeenskap? Immers, as ons gelofosgemeenskap verstaan as 'n God-mens-medemens-verhouding (of dan Vader-Jesus-Volgeling) dan is 'n kritiese deel vand ie geloofsgemeenskap nou weg!

Kom ons dink so daaroor: Die Bybel begin in Genesis 1 en eindig in Openbaring 21 en 22 met 'n gemeenskap waarin God teenwoordig is. In Genesis besoek Hy Adam en Eva "teen die tyd dat die aandwind opkom" (Gen 3:8). In Open 21: 3 lees ons dat God self by hulle sal wees, en in 22:20 met die versugting: "Kom, Here Jesus". Dit is amper asof daar 'n fisiese teenwoordigheid van God by die mens is. Beide tuin en stad is gemeenskap beelde!

Dan in Handelinge, na die hemelvaart verhaal, sien ons ook gemeenskap tussen gelowiges. Deur die uitstorting van die Gees word ons vir mekaar die konkretisering van God se teenwoordigheid by ons. Vanaf hemelvaart vind ons die een groep na die ander en die een verhaal na die ander van versorging, saam-wees en ondersteuning. Kyk bv. na: 2:1 ALMAL was op een plek bymekaar, 2:6 "toe die mense die geluid hoor het 'n GROOT SKARE bymekaar gekom (vir 'n heel effektiewe preek!), 2:43, 4:23 en 4:32 vertel van die eerste gemeente en hulle saam-wees, In 6:1 lees ons van die onderlinge versorging. Wat hemelvaart eerder gedoen het is 2 dinge: dit bring gelowiges bymekaar (Onthou Jesus se opdrag aan sy dissipels in Joh 13 wanneer Hy hulle voorberei vir sy weggaan), en dit maak dat ons God se teenwoordigheid bymekaar deur ons saam-wees, versorging en mededeelsaamheid konkreet en sigbaar maak. Soos Christus God se beeld was, is dit nou ons. En hierdie beeld is 'n konkretisering van wie God is en wat Hy doen.

Kom ons kom bymekaar!

2006-05-09

BYBELGESPREK - 2

EN TERWYL EK WEG IS ....

Hierdie is die tweede van 4 sessies oor Johannes 14-17
In Johannes 15 praat Jesus verder oor Sy verhouding met Sy dissipels. Daar is ’n noue verband tussen hulle en Homself en die Vader. Dit gaan hier daaroor dat hulle in groei plaasvind in gemeenskap/verhouding met Hom, dat hulle Sy vriende is en dat die Vader vir hulle sal sorg. “Onthou” sê Jesus by die geleentheid vir hulle, “Ek is nog altyd julle Vriend. Praat maar met my, ek sal hoor en help!”


Begin met die Skriflesing: Joh 15:1-17

KONTEKS: Die beeld van die Wingerdstok handel oor die intimiteit van ons verhouding met Christus. Gesels oor julle verhouding met Christus. Hoe gaan dit met dissiplines soos gebed en Bybel lees, op watter terrein voel julle naby aan Hom en waar voel julle ver van Hom af? Luister na mekaar en moenie probeer oplossings gee nie!

GOEIE NUUS: Die gedeelte wys duidelik hoe naby ons aan Christus is, dat ons ’n spesiale verhouding met Hom het (Lees bv. Joh 15:11-:15). Watter goeie nuus hou die gedeelte vir julle in? Wattter verskil maak dit aan die manier waarop jy oor jou verhouding met Christus dink? Hoe voel jy oor die idee dat Hy jou as Sy vriend beskou?

In aan sluiting by die gesprek oor die goeie nuus, spandeer tyd om Christus te aanbid en te dank deur een of meer van die volgende: sang, die voorlees van gebede of psalms, deur na musiek te luister of dat iemand ’n dankgebed doen (Help die persoon deur ’n lys te maak van die dinge wat julle as goeie nuus beleef).

NUWE GEMEENSKAP: Ons is almal deel van Christus se vriendekring! Hy praat ook daaroor dat vriende hulle lewe vir mekaar aflê, dat hulle aan Hom gehoorsaam sal wees deur mekaar lief te hê en dat Hy alles aan hulle bekend gemaak het. Hoe verander dit die manier waarop ons as gelowiges met mekaar moet saamleef?
As julle daaraan dink dat ons eers vreemdelinge was: Hoe sal dit die manier waarop ons teenoor mense buite die geloofsgemeenskap verander?

VERANDERING: Die gedeelte praat van vrug dra, van snoei deur die woorde van Jesus. Wat moet verander in die groep om helderder uitdrukking te gee aan die feit dat ons deel is van Christus se vriendekring.

TOERUSTING: Om vrug te dra is om te verander. Dit waaroor julle in die vorige vraag gesels het Hoe help die teks ons om die veranderinge wat julle geïdentifiseer het te implementeer?

Gebruik julle gebedsgeleentheid om vriendskap te vier. Gee geleentheid vir elke groeplid om sy of haar vriende se name te noem – en ‘n gebed vir hulle te doen. Miskien kan julle by die geleentheid fokus op daardie vriende wie se vriendskap ’n verskil aan julle geloofslewe maak – en onthou: Christus is ook een van daardie vriende!

2006-05-03

BYBELGESPREK - Joh 14-17

Die BYBELGESPREK oor As Jesus Groet word nou afgehaal.

Bybelgesprek 4 sal nog 'n paar weke bly.

Die essensie van die reeks handel oor die implikasie van Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels vir ons lewe op aarde. Anders as wat dit op die oog af lyk is Jesus se hemelvaart nie 'n weg uit die wêreld-event nie, maar stuur na die wêreld gebeure - en eintlik 'n empowerment en enablement gebeure. Die vraag as 't ware is nie: Waarom het Jesus weggegaan nie?, maar Waarom het ons agtergebly?

Hierdie is 'n lekker reeks vir die Paastyd op pad na Hemelvaart - veral in die lig daarvan dat ons nie vir die volgende 4 weke 'n deurlopende tema in die eredienste sal hê nie.

Dit is per e-pos of op CD beskikbaar by Johan - johanp@fontainebleau.ws