2006-11-07
ADVENT, KLEINGROEPE EN VERMEERDERING
Die eerste tema wat ter sprake gekom het, was die verband tussen Kersfees/Advent en Geloofsgemeenskap. Wat kan ons daaruit leer wat ons kan help om geloofsgemeenskap in ons Kleingroepe te verdiep? Hier is 'n paar van die gedagtes wat ter sprake gekom het.
1. Advent is nogal 'n geloofsgemeenskap wees. Dit is immers die viering van God by ons, God in gemeenskap met ons. Terselfdertyd beleef ons Kersfees as 'n tyd saam met mense naby ons en dikwels ook vreemdelinge. Dink maar bv. hoe ons op Kersoggend selfs vreemde mense seën toewens!! En dit is wat geloofsgemeenskap is. God, ek en my medemens in 'n verhouding. Kersfees is 'n metafoor, 'n beeld van hierdie soort geloofsgemeenskap.
2. Advent is natuurlik ook 'n nuwe begin. Dit is die begin van die kerkjaar. Dit is die begin van 'n hele nuwe bedeling in die geskiedenis van God en mens - 'n bedeling wat deur 'n inklusiewe geloofsgemeenskap gekenmerk word. Deel van ons gesprek het oor vermeerdering gegaan. En dit was juis hierdie punt wat die gesprek ge-"trigger" het. Hoe bereid is ons om vir ander mense dieselfde ruimte vir 'n nuwe begin (ontdekking van die genade en vergifnis) te bied. Die spanning van geloof lê verder daarin dat so 'n nuwe begin 'n veilige ruimte vra - 'n ruimte wat net deur die teenwoordigheid van God (en dus die gedrag van God se beelddraers) tot stand kom. En mense wat verwond is vertrou nie maklik nie. Dit vra tyd.
3. Daar is natuurlik rondom ons gemeensaamheid oor Kersfees 'n baie doelbewuste keuse. Ons ry ver, maak afsprake. Ook die beskerming van ons oortuiging dat Kersfees 'n Christelike fees is, vra dikwels 'n doelbewuste keuse om bv. uit die winkels weg te bly, die prys van geskenke goedkoop te hou, ens. Geloofsgemeenskap word georganiseer, dit kom nie vanself nie en verdiep ook nie vanself nie. Dit is m.i. die belangrikste rede vir Kleingroepe in 'n gemeente - 'n doelbewuste struktuur vir die verdieping van geloofsgemeenskap.
Mag Advent 2006 se seën daarin te vind wees: dat ons saam met Christus mekaar met nuwe oë raak sien en so vir mekaar hoop bied - hoop dat daar 'n meer betroubare gemeenskap bestaan.
2006-09-05
Leer en onderrig mekaar
Aan die hand van hierdie gedeelte het die Kleingroep-versorgers gisteraand (4/9/06) met mekaar gesels oor die verband tussen versorging van mekaar in die Kleingroep en dissipelskap of geestelike groei as fokus van die groep. Dit is gedoen teen die agtergrond van meer as een selleier wat vir my (Johan) kom sien het met die vraag: Hoe hanteer ons ernstige verhoudingsprobleme van sellede in die sel?
Die volgende riglyne het uit die gesprek na vore gekom.
1. Fokus op God. Die sing van liedere tydens die selbyeenkoms help ons hiermee. Aanbidding is dus nie net 'n lekker saamsing nie, maar help ons met die hantering van die uitdagings wat die lewe bied.
2. Doen moeite. Om iemand te ondersteun vra dat ons moeite sal doen om te wys dat ons om gee, dat ons belang stel en 'n "commitment" teenoor die persoon/persone het wat ons ernstig op neem. Dit gaan dus hier oor die bou van verhoudinge wat verkieslik betyds gevestig moet word deurdat die leier soms "huisbesoek" doen, een-tot-een gesprekke met groeplede voer, die sel saam speel en pret het. Hierdie verhoudingsbou is die verantwoordelikheid van al die groeplede.
3. Haal die "issue" uit die sel byeenkoms. Dit is belangrik om te onthou dat die sel nie net 'n byeenkoms is nie, maar ook "tussen-in" kontak met mekaar moet soek (sien hierbo). Dit is ook belangrik om te onthou dat al die groeplede 'n aanspraak op ondersteuning het, en na alle waarskynlik is dit deel van die groepskontrak dat almal geleentheid tot gesels en deel sal kry. Dit is 'n goeie idee om individue wat ernstig probleme het buite die selbyeenkoms te sien en te probeer ondersteun. 'n Ander moontlikheid is om tydens die selbyeenkoms te werk met wat ek "mikro-groepe" noem. Maw laat die groep vir die tyd om te deel opbreek in nog kleiner groepe van 2 of 3 persone wat deel en vir mekaar voorbidding doen.
4. Gebruik jou ervaring. Gebruik jou eie ervarings om te deel en te begelei. Dit beteken nie om die bekende: "dit is nog niks, weet jy wat het met my gebeur ..."-stelling te maak nie. Onthou hoe jy gevoel het en wat jou behoefte in soortgelyke situasies was. Deel op 'n nederige, nie paternalistiese, manier wat jy van die Here ontdek het in tye van uitdaging en probleme. In hierdie verband is die fokus op dissipelskap en groei baie belangrik.
5. Gebruik die gawes in die groep. Die groepleier het 'n ononderhandelbare verantwoordelikheid om al die groeplede te begelei, maar daar is na alle waarskynlik ander groeplede wat die gawe van bemoediging of ondersteuning het. Gebruik hulle - maar altyd met die toestemming van diegene wat swaarkry.
6. Pasop vir 'n "high-maintenance" groeplid. Dalk is die beste wat jy vir iemand wat uitdagende tye beleef, om te voorkom dat hy/sy 'n "high maintenance"-groeplid word. Sulke groeplede tap die energie van groep, neem die groep weg van sy oorspronklike doel, kaap byeenkomste (bewustelik of onbewustelik) en veroorsaak vervreemding en ongelukkigheid in die groep. Bg riglyne sal baie help om dit te voorkom.
Henry Blackaby in sy boek Beleef God (p.86) gee die volgende riglyne
Stap 1: is om biddend te luiste3 na wat die Heilige Gees deur die Woord oor die aangeleentheid vir ons leer.
Stap 2: is om biddend die waarheid te onderskei.
Stap 3: is om jou gedrag te verander in ooreenstemming met die waarheid.
Stap 4: is om toenemend in gehoorsaamheid op te tree.
Ons vertrou bg. help 'n bietjie om die kwaliteit van versorging van mekaar te verhoog. Laat weet gerus watter ervaringe julle het en watter lesse julle in julle groep geleer het oor versorging van mekaar. Kom deel julle getuienis deur op "comments" te klik. Dit kos niks om te registreer nie, maar dra baie by tot die groei van mede-gelowiges.
Johan
2006-08-18
DIENGESPREK -2 Cosmo CIty

Ek het al voorheen gesê dat Cosmo City baie geleenthede gaan bied vir selgroepe om projekte te loods. Ons is vol moed dat Jos Nyathi middel na einde Oktober sal kan intrek en ons vroeg in November met byeenkomste sal kan begin.
Hier is die eerste voorstelle:
Om 'n meesterplan op te stel vir die kerkterrein - sodat ons die tent op die regte plek opslaan - benodig ons 'n argitek en 'n siviele ingenieur.
As ons begin November met byeenkomste wil begin benodig ons:
- 'n Borgskap vir die tent
- 'n klankstelsel
- stoele
- kateder of tafel
- 'n Staal "container" waarin ons goed kan toesluit
Vir meer inligting bel vir myself of Jos Nyathi by 796-6800 of vir Douwe van Wyk by [072]944-3644. Ander persone wat met die projek help is Robert Schmdit, Maria Engelbrecht, Johan Heunis, Estelle Bester, Bennet Funda en ds. Nico Mostert van Greymont.
Kom ons maak hierdie opwindende geleentheid 'n Kleingroep-projek
KOFFIETAFELGESPREK - Hoe ondersteun groepe mekaar?
HOE LYK DIE STRUKTUUR OP DIE OOMBLIK?
Op die oomblik bestaan die struktuur basies uit Marissa wat die inskakeling hanteer en dan die 10 versorgers wat die Kleingroepleiers ondersteun. Ek het iemand geïdentifiseer vir wie ek wil vra om as kontak tussen die Kleingroep-netwerk en selgroepe op te tree.
WAT 'n STRUKTUUR MOET DOEN?
Een van die belangrike prioriteite waaroor gesels is, is die versterking van die strukture rondom Kleingroepe in die gemeente. Ekself (Johan) is van mening dat strukture slegs ondersteunend moet wees en aandag moet gee aan veral 3 sake te wete opleiding, materiaal en inskakeling. Uit die ontwikkeling van die afgelope jaar is daar ook 'n behoefte aan die ko-ordinering van diensgeleenthede.
Wat is julle verwagting van die strukture in die gemeente en die Kleingroep-netwerk?
KLEINGROEPE en GEMEENTE
Die Gemeenteraad is vas oortuig dat kleingroepe die sleutel tot beter kommunikasie in die gemeente is, en die kern van die gemeente vorm. Daarom stel hulle hoë verwagtinge van die kleingroepe se inset in die gemeentelewe. Ek het nog altyd probeer om die kleingroepe teen sulke verwagtinge te beskerm, omdat ek uit eie ervaring weet hoe verwagtinge rondom rentmeesterskap, organiseer van geleenthede, dienswerk ens. kleingroepe se agenda's oorneem. Om dit te kommunikeer skep nie net druk op kleingroepe nie, maar ook verwagtinge by die boodskapper en as groepe nie reaeer nie kom die beskuldiging van "click"-vorming en apatie baie gou.
By die eerste gesprek van die jaar het groepe gevra dat ek meer inligting oor diensgeleenthede deurgee en dit aan hulle oor te laat om te besluit om betrokke te raak. Hopelik het dit verbeter, maar die gebrek aan reaksie het inderdaad bg. beskuldigings ontlok.
Sien ook die "Diengesprek"-artikels oor geleenthede, soos die terugvoer van die Kleingroep-gespreksaand twee weke gelede en oor 'n geleentheid in Cosmo City.
WAT IS JOU MENING HIEROOR?
Laat weet asb. hoe jy voel oor die rol van die strukture in die Kleingroep-netwerk en oor die verhouding tussen Kleingroepe en gemeente. Kom ons maak hiervan 'n sinvolle "blog-gesprek",
2006-08-01
BYBELGESPREK 6 - Psalms vir aanbidding
Nogtans bevat dit handige riglyne.
DIENGESPREK
BRING-EN-GEE het groot behoefte aan medewerkers. Bel vir Jolandi by 083 278 9234 om meer uit te vind.
SOPAKSIE in Riverlea het behoefte aan sopkokers en mense wat bereid is om sop te gaan aflewer. Dit bly ook 'n ondervinding om die aksie te besoek en 'n bietjie blootstelling te kry aan wat armoede regtig aan mense doen. VIr meer inligting bel vir Lyn by 796 6830.
Ons EREDIENS-SPANNE het ook altyd plek vir nog mense. Bel vir Theresa om meer uit te vind waar julle betrokke kan raak by die aksie. Hulle neem dankoffer op en verwelkom mense by die deure. Theresa se nommer is 796 6800.
Praat met Waldemar (796 6800) oor geleenthede by die JEUGBEDIENING.
Ander geleenthede wat aan die kom is, is Alpha en Ontdek jou plek. Dit is vir groepe wat behoefte aan groei het.
Dan kom daar binnekort 'n klomp geleenthede om projekte te doen met die oog op die vestiging van ons werk in Cosmo City (langs Hans Strydom net anderkant Kya Sands). Ons gaan veral goed soek om 'n byeenkoms ruimte te skep soos stoele, klankstelsel ens. Ons is tans besig met die beplanning van die werk en sal julle op hoogte hou. Intussen kan julle voorbidding doen vir die werk. Bel vir Maria Engelbrecht om julle name op die lys te kry. Haar nommer is 082 340 6740. Jos Nyathi of ekself kan ook meer inligting kom gee.
Groete
Johan
BYBELGESPREK 5 - Beskikbare materiaal vir byeenkomste
Hier is 'n paar voorbeelde.
By die kantoor is materiaal beskikbaar oo r:
DIE HUISGESIN VAN GOD - die boekie met 6 byeenkomste is ideaal vir nuwe groepe of groepe wat weer 'n slag wil nadink oor wat dit beteken om 'n groep te wees. Dit is opgestel deur 'n groepe predikante in George en uitgegee deur Lewensvreugde. 'n Afskrif kan in harde kopie by die kantoor bestel word. Koste: Donasie aan die gemeente vir afrol werk.
RENTMEESTERSKAP - in die lig van die gesprek oor die gemeente se rentmeesterskap kan die boekie groepe help om oor hierdie belangrike maar verwaarloosde aspek van dissipelskap te praat. Johan Pieters het 'n kursus van die bekende John Maxwell (wat heelwat boeke oor leierskap geskryf het) aangepas vir die doeleindes van groepsbesprekings. Koste: Donasie vir afrolwerk. Die boekie kan ook op CD of per e-pos versprei word.
MENSE WAT LEWE - die reeks van 6 byeenkomste handel oor die impak wat die opstanding van Christus op ons lewe het. Dit is deur Johan Pieters ontwikkel en is gebasseer op 'n kursus van John en Adrienne Carr met die titel: Volk van die Pase. Elke week se byeenkoms bestaan uit leeswerk en 'n groepsbyeenkoms wat geestelike groei wil bevorder. Die boekie is spesifiek geskryf om groepe te help met die verstaan van die gemeente se roeping om gemeenskapskerk te wees. Koste: Donasie vir afrolwerk. Ons kan dit ook per e-pos of CD beskikbaar stel en 'n Leiersgids word tans ontwikkel.
AS JESUS GROET - die reeks oor Joh 14-17 kan beskikbaar gestel word. Johan het dit ontwikkel in 'n poging om 'n benadering te kry om meer materiaal vir groepe te kan skep wat aanpas by temas ens. wat in die gemeente gepreek word. Hierdie is 'n toets en terugvoer kan help om sinvolle materiaal te ontwikkel. Koste: Donasie vir afrolwerk.
Ander materiaal wat onder ons aandag gekom het en blykbaar goed werk is die volgende:
BEGINNING LIFE TOGETHER - Heinrich Eksteen het die boekie wat deur 'n DVD ondersteun word onder my aandag gebring. Dit word uitgegee deur Zondervan en is ontwikkel deur o.a. Bruce Wilkenson en onderskryf deur Rick Warren. Dit moet ongelukkig van oorsee bestel word by www.zondervan.com
SEWE - jou kompas tussen lig en duister - die boekie deur Leon Fouché het ek nou die dag by Gospel Direct se uitverkoping raakgeloop. Dit handel oor die 7 christelike deugde (nederigheid, vriendelikheid, geduld, betrokkenheid, mededeelsaamheid, matigheid en kuisheid) en die 7 klassieke "doodsondes (hoogmoed, afguns, woede, afsydigheid, gierigheid, vraatsug en wellus). Dit bevat 7 gesprekstemas. EK is besig om die boekie deur te werk, maar dit lyk vir 'n begin of dit kan help.
Lekker gesels
Johan
2006-05-25
NETGESPREK 3 - Hemelvaart en geloofsgemeenskap

Is Christus se hemelvaart die opbreek van geloofsgemeenskap? Immers, as ons gelofosgemeenskap verstaan as 'n God-mens-medemens-verhouding (of dan Vader-Jesus-Volgeling) dan is 'n kritiese deel vand ie geloofsgemeenskap nou weg!
Kom ons dink so daaroor: Die Bybel begin in Genesis 1 en eindig in Openbaring 21 en 22 met 'n gemeenskap waarin God teenwoordig is. In Genesis besoek Hy Adam en Eva "teen die tyd dat die aandwind opkom" (Gen 3:8). In Open 21: 3 lees ons dat God self by hulle sal wees, en in 22:20 met die versugting: "Kom, Here Jesus". Dit is amper asof daar 'n fisiese teenwoordigheid van God by die mens is. Beide tuin en stad is gemeenskap beelde!
Dan in Handelinge, na die hemelvaart verhaal, sien ons ook gemeenskap tussen gelowiges. Deur die uitstorting van die Gees word ons vir mekaar die konkretisering van God se teenwoordigheid by ons. Vanaf hemelvaart vind ons die een groep na die ander en die een verhaal na die ander van versorging, saam-wees en ondersteuning. Kyk bv. na: 2:1 ALMAL was op een plek bymekaar, 2:6 "toe die mense die geluid hoor het 'n GROOT SKARE bymekaar gekom (vir 'n heel effektiewe preek!), 2:43, 4:23 en 4:32 vertel van die eerste gemeente en hulle saam-wees, In 6:1 lees ons van die onderlinge versorging. Wat hemelvaart eerder gedoen het is 2 dinge: dit bring gelowiges bymekaar (Onthou Jesus se opdrag aan sy dissipels in Joh 13 wanneer Hy hulle voorberei vir sy weggaan), en dit maak dat ons God se teenwoordigheid bymekaar deur ons saam-wees, versorging en mededeelsaamheid konkreet en sigbaar maak. Soos Christus God se beeld was, is dit nou ons. En hierdie beeld is 'n konkretisering van wie God is en wat Hy doen.
Kom ons kom bymekaar!
2006-05-09
BYBELGESPREK - 2
Hierdie is die tweede van 4 sessies oor Johannes 14-17
In Johannes 15 praat Jesus verder oor Sy verhouding met Sy dissipels. Daar is ’n noue verband tussen hulle en Homself en die Vader. Dit gaan hier daaroor dat hulle in groei plaasvind in gemeenskap/verhouding met Hom, dat hulle Sy vriende is en dat die Vader vir hulle sal sorg. “Onthou” sê Jesus by die geleentheid vir hulle, “Ek is nog altyd julle Vriend. Praat maar met my, ek sal hoor en help!”
Begin met die Skriflesing: Joh 15:1-17
KONTEKS: Die beeld van die Wingerdstok handel oor die intimiteit van ons verhouding met Christus. Gesels oor julle verhouding met Christus. Hoe gaan dit met dissiplines soos gebed en Bybel lees, op watter terrein voel julle naby aan Hom en waar voel julle ver van Hom af? Luister na mekaar en moenie probeer oplossings gee nie!
GOEIE NUUS: Die gedeelte wys duidelik hoe naby ons aan Christus is, dat ons ’n spesiale verhouding met Hom het (Lees bv. Joh 15:11-:15). Watter goeie nuus hou die gedeelte vir julle in? Wattter verskil maak dit aan die manier waarop jy oor jou verhouding met Christus dink? Hoe voel jy oor die idee dat Hy jou as Sy vriend beskou?
In aan sluiting by die gesprek oor die goeie nuus, spandeer tyd om Christus te aanbid en te dank deur een of meer van die volgende: sang, die voorlees van gebede of psalms, deur na musiek te luister of dat iemand ’n dankgebed doen (Help die persoon deur ’n lys te maak van die dinge wat julle as goeie nuus beleef).
NUWE GEMEENSKAP: Ons is almal deel van Christus se vriendekring! Hy praat ook daaroor dat vriende hulle lewe vir mekaar aflê, dat hulle aan Hom gehoorsaam sal wees deur mekaar lief te hê en dat Hy alles aan hulle bekend gemaak het. Hoe verander dit die manier waarop ons as gelowiges met mekaar moet saamleef?
As julle daaraan dink dat ons eers vreemdelinge was: Hoe sal dit die manier waarop ons teenoor mense buite die geloofsgemeenskap verander?
VERANDERING: Die gedeelte praat van vrug dra, van snoei deur die woorde van Jesus. Wat moet verander in die groep om helderder uitdrukking te gee aan die feit dat ons deel is van Christus se vriendekring.
TOERUSTING: Om vrug te dra is om te verander. Dit waaroor julle in die vorige vraag gesels het Hoe help die teks ons om die veranderinge wat julle geïdentifiseer het te implementeer?
Gebruik julle gebedsgeleentheid om vriendskap te vier. Gee geleentheid vir elke groeplid om sy of haar vriende se name te noem – en ‘n gebed vir hulle te doen. Miskien kan julle by die geleentheid fokus op daardie vriende wie se vriendskap ’n verskil aan julle geloofslewe maak – en onthou: Christus is ook een van daardie vriende!
2006-05-03
BYBELGESPREK - Joh 14-17
Bybelgesprek 4 sal nog 'n paar weke bly.
Die essensie van die reeks handel oor die implikasie van Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels vir ons lewe op aarde. Anders as wat dit op die oog af lyk is Jesus se hemelvaart nie 'n weg uit die wêreld-event nie, maar stuur na die wêreld gebeure - en eintlik 'n empowerment en enablement gebeure. Die vraag as 't ware is nie: Waarom het Jesus weggegaan nie?, maar Waarom het ons agtergebly?
Hierdie is 'n lekker reeks vir die Paastyd op pad na Hemelvaart - veral in die lig daarvan dat ons nie vir die volgende 4 weke 'n deurlopende tema in die eredienste sal hê nie.
Dit is per e-pos of op CD beskikbaar by Johan - johanp@fontainebleau.ws
2006-03-16
NETGESPREK 2 - Lydenstyd
God, so het ons ou al gesê, is 'n God wat in gemeenskap met my en my medemens leef (ook Jy en Jou medemens). Dit maak van die lesers van hierdie site 'n community wanneer ons Sy teenwoordigheid erken.
Met die geboorte en koms van Christus na die aarde toe het Hy 'n unieke perspektief op hierdie community gegee. Dit is Hy die Skepper, Jesus die Seun van die mens, en ek/jy/ons (God, mens en medemens).
Met lydenstyd het hierdie community verdiep. Oorweeg die volgende: Hy leef en sterf saam met ons - "koinonia" die Griekse woord vir geloofsgemeenskap beteken om SAAM TE LEEF. Hier dra die Community mekaar se laste/sonde op 'n baie besonderse manier.
Maar wanneer Jesus uitroep: My God, My God, waarom het jy my verlaat? word die God, mens, medemens-gemeenskap opgebreek. Met sy sterwe en opstanding word die gemeenskap egter herstel. Is dit nie hoe gemeenskap werk nie? Dat dit altyd eers deur die "dood" gaan voordat dit kan verdiep?
Lydenstyd gee vir ons die hoop dat ons gemeenskap met God en ons medemens kan herstel.
2006-02-27
KOFFIETAFELGESPREK
Welkom by die blog van Fontainebleau Gemeenskapskerk se Kleingroep-netwerk!
By KOFFIETAFELGESPREK kan jy enige saak aanroer of kommentaar lewer. Dit kan handel oor dinge in die gemeente of in die wye wêreld daarbuite, oor jou eie "issues" of die van die mense naby aan jou. Ek kyk na maniere dat julle self die onderwerpe kan ophala waaroor julle wil gesels.
By BYBELGESPREK sal ek op 'n gereelde basis 'n nuwe Bybelgesprek of riglyne vir 'n byeenkoms publiseer. Vir Maart kyk ons na Joh 14-17. Bespreek by die sel of kleingroep, vra die vrae waarop julle antwoorde soek en vertel van die insigte wat julle ontwikkel het. Vanaf die 2de kwartaal sal ek poog om die tema te laat aansluit by die eredienste van die gemeente - of ten minste die oorhoofse tema
By DEELGESPREK sal ek graag getuienis en verhale van Kleingroepe plaas. Laat waai met julle stories sodat ons dit ook aan die gang kan kry..
By NETGESPREK sal ek opsommings maak van boeke, artikels of gedagtes van my eie publiseer rondom die "issue" van geloofsgemeenskap en die verdieping daarvan. Gesels saam sodat ons bymekaar kan leer. Ek sal dit ook gebruik om materiaal en ander inligting te publiseer of om opsommings te gee van boeke en artikels.
Laat weet waaroor julle wil praat en waaroor julle wil dink. Hou die ruimte dop vir meer en "click" op "comments" om deel te neem aan die gesprek!!
Die blog gaan nie afgerond wees nie, sommer net 'n lekker kuier rondom 'n koppie koffie!
Baie welkom
Johan